‘n Augustus vakansiedag nagmerrie rondomtalie na ‘n fantastiese idee

Soos wat die noodlot is, moes almal werk die betrokke dag, en ek moes inspring om te help met ‘n aflewering Moloto se kant toe. Ek het in die gejaag my reisbottel boeretroos by die huis vergeet. So stop ek by ‘n vriendin, en moet ek goed optel om by die werk af te lewer. Liewe mens wat sy is, maak sy dadelik ‘n koffie want so het ek nog nie nat of droog oor my lippe die oggend nie. Die voertuig uitruil geskied, vining en effektief – en daar ry ek om so gou moontlik dan nou die werkies af te handel en betyds terug te wees om op te vars voor die gereelde braai saam met vriende later die middag.

En so mis ek weereens die koffie wat uit die liefde van my vriendin se hart gemaak was.

Diep teleurgesteld is ek reeds op die snelweg, en stop vir ‘n wegneem bekertjie is nou ook daarmee heen. En ek voel die geknaag van ‘n teef in wording hier in my binneste krap…

‘Fastforward’ tot ek terug is, aflewering gedoen, en ‘n haastige eggenoot en kinders pak en slaai maak, – sluk ek net iets koel af, want die gemoedere loop hoog – en kyk, as ek nou daai troosie moet afsluk, gaan ek iemand wurg…ek wil hom geniet, ek wil seker maak die wag was die moeite werd.

Ek pak my EIE sak met KOFFIE en KOFFIE BYKOMSTIGHEDE – blikbeker, warm vles, vars melk, lepel en ‘n soetigheidtjie. My ‘French press’(Franse druk klink vir my bietjie vreemd)

Ons stap in en word hartlik gegroet en ontvang, almal in ‘n vrolike bui en ek moet steeds daardie gekrap in my binneste probeer beheer. Maar, nou is my kans, want almal raak nou weer rustig en ek kan uiteindelik doen waarna ek die HELE dag smag, my koffie geniet.

Of so het ek gedink

Ek haal die water, vles en alles uit, en begin met my proses, en skielik is die hele sirkel sjoepstil verstom. ‘Mariechen, wat op aarde maak jy?’

‘Koffie, Karen – ek maak KOFFIE!’

Want nou is ek al moeg gesukkel en die filter is in my press, nie meer voor my mond nie, en voor ek myself kon kry, vertel ek die hele geselskap dames,

Ék, Mariechen is ‘n KOFFIETEEF. Ek is Trots, Eerlik , Eksentriek en Fyn!’ Wag maar met die wyn. My koffie moet in, voor ek my dag kan begin.

Ek gaan sommer ‘n hele reeks KOFFIETEEF koffie en bykomstighede skep, vir almal, wat net so lief is vir koffie soos ek!’               

‘Wie wil nog he?’

En almal se sowaar ja, hulle wil ook he! So het ‘n vriend(inn)e kring kultuur begin

En nou, is ons almal ‘n klomp koffietewe, VOOR die partytjies besig raak!